Divorce Attorney Cape Town

Onderhoud met Bertus Preller, een van Kaapstad se top egskeiding prokureurs


Huisgenoot 31 Mei 2013
Huisgenoot 31 Mei 2013

Huisgenoot Uitgawe 31 Mei 2013

Voor die kansel dink `n bruidspaar liefs nie aan die moontlikheid dat hul paadjies eendag weer sal skei nie. Maar met sowat een uit vier huwelike wat Suid-Afrika in die skeihof eindig, moet mens weet wat ná `n moontlike verbrokkeling op jou wag.

“Mense is oor die algemeen nie van hul regte bewus as dit by skei kom nie,’’ sê Bertus Preller (48), ‘n prokureur van Kaapstad wat in egskeidings en familieregsake spesialeer.

Daarom het hy ‘n boek geskryf wat die regsaspekte vir leke verduidelik, getitel Everyone’s Guide to Divorce and Seperation. Daarin word skeidings uit saamblyverhoudings en gay-egskeidings ook behandel.

“Om te skei is nooit maklik nie, maar as mense besef dit gaan nie oor wenners of verloorders nie, kan die proses redelik maklik wees,’’ sê Bertus. Hy is ook die familieregspesialis van die Health24.com-forum en stigter van eDivorce, ‘n selfdoen aanlyn egskeidingsdiens.

Hy praat ook van personnlike ondervinding, want nie net het hy al in sy loopbaan “seker honderde’’ egskeidings hanteer nie, maar hy het ook al self geskei.  Hy en sy huidige vrou het elk twee kinders uit hul vorige huwelike en een kind saam. “Ek weet hoe belangrik dit is om `n egskeiding vreedsaam op te los. Dit is nie soseer egskeidings  wat altyd skadelik is vir kinders nie maar die konflik in egskeidings wat skadelik is vir die kinders,’’ sê hy.

Wat is die 10 vrae wat  kliënte in `n skeisaak hom die meeste vra? wou Huisgenoot weet. Hier antwoord hy daarop.

1.  Hoeveel kos ’n egskeiding?

Dit hang af of dit bestrede of onbestrede is. ’n Egskeiding is bestrede wanneer die egpaar byvoorbeeld verskil oor hoe hul bates verdeel moet word, hoeveel onderhoud betaal moet word  of wie die hoofversorger van die kinders sal wees. As hulle nie daaroor kan ooreenkom nie en ‘n regter moet eindelik uitspraak gee, kan dit honderde duisende rande beloop. Wanneer rykes en beroemdes skei en daar groot bates op die spel is soos in die egskeiding van die biljoenêr-politikus Tokyo Sexwale en sy vrou Judy, kan die regskoste self miljoene wees, sê Bertus. In 90 persent van alle skeisake word ’n skikkingsooreenkoms gewoonlik voor die hofsaak bereik, dit kan selfs enkele ure voor die tyd of tydens die saak gebeur. Dikwels word baie tyd en geld gemors op ’n saak wat op die ou end buite die hof geskik word. In ‘n bestrede skeisaak kan die prokureurs die dienste van verskeie kenners soos forensiese rekenmeesters en sielkundiges aanvra wat onder eed getuig. Dit jaag die koste verder op.

In ‘n onbestrede egskeiding kom jy en jou huweliksmaat saam oor die voorwaardes van jul egskeiding ooreen – soos die verdeling van bates en by watter ouer die kinders sal woon en watter ouer alternatiewe sorg sal hê. ‘n Skikkingsooreenkoms word dan opgestel, albei ouers onderteken dit en dit word ’n hofbevel gemaak.

Net die eiser verskyn dan in die hof wanneer die saak voorkom. ’n Onbestrede egskeiding kan tussen R800 en R20 000 kos, afhangende van hoe kompleks die skikkingsooreenkoms is en hoe moeilik dit is om te bepaal wie moet toesig oor minderjarige kinders kry.

2. Kan ek vra dat die ander party tot my regskostes en maandelikse onderhoud bydra voordat my egskeiding afgehandel word?

Wanneer ’n egskeiding lank sloer of  een van die huweliksmaats ’n tuisteskepper sonder inkomste is, is daar ‘n tussentydse maatreël om so iemand finansieel te help. Volgens reël 43 kan  jy in die Hooggeregshof daarvoor aansoek doen en volgens reël 58 in die Landdroshof. Die regskoste is  minimaal – prokureurs of advokate wat self verskyn in ‘n onbestrede aansoek in die Hoogeregshof mag nie meer as R426 en in die Landdroshof meer as R 404 vra nie en in ‘n bestrede aansoek nie meer as R 1 066.00 en R 929.00  nie. Prokureurs wat nie self in beide howe verskyn nie en wat ‘n advokaat gebruik mag nie meer as R 1491 in ‘n onbestrede en R 2130 in ‘n bestrede aansoek vra nie en in die Landdroshof R 1 414 en R 2020 vra nie.  Volgens hierdie twee reëls kan ook aansoek gedoen word om die betaling van tydelike onderhoud vir ‘n huweliksmaat en/of die kinders, die verband van die huwelikshuis, paaiemente op voertuie, skoolgeld, mediesefondspremies en selfs verhuisingskoste en ‘n deposito vir ‘n  nuwe blyplek. Omrede die Landdroshowe ook nou jurisdiksie het om egskeidings aan te hoor kan mense nou in enige van die twee howe egskeidings aanhangig maak.

3. Hoe lank sal die skeiproses duur?

Onbestrede egskeidings kan binne vier tot ses weke afgehandel word. Bestrede egskeidings kan tot drie jaar lank neem.

4. Hoe beïnvloed my huweliksbestel (die manier waarop ek getroud is) die verdeling van bates?

By huwelike binne gemeenskap van goedere sal die gesamentlike boedel (die bates minus die laste of skuld) op die datum van die egskeiding gelykop tussen die partye verdeel word, maar erflatings word uitgesluit (indien in testament so bepaal word) en ook geskenke of donasies (in sommige gevalle) wat die paartjie tydens of voor die huwelik aan mekaar gegee het.

Met `n huwelik buite gemeenskap van goedere, word die bates volgens hul  huweliksvoorwaardekontrak verdeel. By pare wat voor 1 November 1984 buite gemeenskap van goedere getroud is, moet die bates soms gelykop verdeel word ooreenkomstig artikel 7(3) van die Egskeidingswet, want dit was voordat die aanwasbedeling ingestel is.

Pare wat ná 1 November 1984 buite gemeenskap van goedere maar sonder die aanwasbedeling getroud is, kan nie eis dat bates van die een na die ander oorgedra word, en sal die vrou slegs ‘n onderhoudseis hê. Waar die aanwas ingesluit is sal die party met die kleiner aanwas geregtig wees op die helfte in die verskil van die onderskeie aanwaste.

5. Is ek geregtig op onderhoud?

Ons reg is ten gunste van die “skoonbreuk-beginsel” – dit beteken dat partye moet ná ’n egskeiding  so gou as moontlik ekonomies onafhanklik van mekaar word.

Die Wet op Egskeiding bepaal wel dat ’n hof een huweliksmaat kan beveel om vir ’n ander onderhoud te betaal. Dit hang onder meer af van die ouderdom van die huweliksmaat wat onderhoud eis, die duur van die huwelik en die lewenstandaard van die partye voor die egskeiding. Daar word ook gekyk hoeveel elkeen tot die verbrokkeling van die huwelik bygedra het.

Die idee dat die huwelik ’n vrou se bron van inkomste vir die res van haar lewe moet wees, is in ons howe aan die uitsterf.

Middeljarige vroue wat hulle jare lank daaran toegewy het om die huishouding te bestuur en die kinders te versorg sal vir ‘n sekere tyd rehabiliterende onderhoud ontvang, sodat hulle opgelei of heropgelei kan word vir ’n werk of beroep.

Permanente onderhoud word toegestaan aan ‘n bejaarde vrou wat lank getroud was, nooit gewerk het nie en nie behoorlik vir haarself sal kan sorg nie en waarskynlik nie weer sal trou nie.

6. Hoe word kinderonderhoud vasgestel?

’n Kind is geregtig op redelike onderhoud vir klere, behuising, tandheelkundige en mediese sorg, onderwys en opleiding en ook ontspanning.

Albei ouers het ‘n plig om die kind volgens hul vermoë te onderhou —  of die kind nou aangeneem is, binne of buite die huwelik gebore is, of uit ‘n eerste of ‘n  latere huwelik.

7. Kan ek ‘n derde party dagvaar wat die oorsaak van die egskeiding was?

In ons howe gaan egskeiding eerder oor die onherstelbare verbrokkeling van die huwelik as om die skuld daarvoor op een van die twee partye te pak. Tog kan ’n onskuldige party skadevergoeding van ’n derde party eis met wie daar owerspel gepleeg is.

8. Wie kry die kinders?

Albei ouers moet met ‘n egskeiding besluit by watter ouer die kind gaan woon en wat die ander ouer se besoekregte sal wees. ’n Egskeiding word net toegestaan as die hof tevrede is dat hierdie reëlings in die kinders se beste belang is. Ons howe besluit nie volgens geslag of ‘n pa of ma die bekwaamste is om ‘n kind te versorg.

9. Kan die kinders sê  by wie hulle wil bly?

Kragtens die nuwe Kinderwet moet die kind se mening oorweeg word met die besluit oor toesig. As kinders die nodige volwassenheid bereik het, gewoonlik vanaf 13, het hulle ‘n sê  in enigiets wat hul versorging raak.

10. Sal die egskeiding ons lewenstandaard beïnvloed?

’n Vrou se inkomste daal gewoonlik aansienlik ná ’n egskeiding. Wanneer ’n gesin saamwoon, word albei se inkomste gebruik om die huishouding se uitgawes te betaal. Ná ’n egskeiding moet  twee huishoudings met daardie inkomste onderhou.  Ondersoeke wys deurgaans geskeide vroue, veral dié met kinders, is meer kwesbaarder vir armoede as geskeide mans is.

Volg Bertus Preller op Twitter: @bertuspreller of besoek http://www.divorceattorney.co.za

One thought on “Onderhoud met Bertus Preller, een van Kaapstad se top egskeiding prokureurs”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: