Divorce Attorney Cape Town

Trauma van teister: Só trek jy die streep Die Wet op Teistering, Wet 17 van 2011


Teistering

Die Artikel het in Vrouekeur in September 2013 verskyn

“Ek gaan jou doodmaak”

‘n Harde stem wat oor die foon gil: “Jy is ‘n slet!”

“Mamma wat is ‘n slot?” wou haar klein seuntjie weet.

Die einde van 2011 was ‘n vreesbevange tydperk vir Suzette Malherbe* van Natal nadat sy aan ‘n gesprek op radio deelgeneem het.

Iemand wat haar op ‘n program hoor gesels het, het al haar nommers opgesoek en haar vreemde tye van die dag, van verskillende nommers en selfs in die oggendure, soos 3:00 die nag gebel. Die persoon het ook Facebook en smsse ingespan om haar te teister.

“Ek gesels gereeld oor die radio en vertel van God. Die praatjie waarna die teisteraar verwys het, wanneer hy bel, was juis hieroor. Hy het gesê hy het my op die radio gehoor. Hierdie was heel in die begin van my publieke lewe, so dit was baie scary. Terwyl dit gebeur het was ek absoluut in skok. As enkelmamma was ek vreeslik besorg oor my dogtertjie gedurende hierdie tyd. Ek het bly hoop dit sal ophou. Die fout wat ek gemaak het was om met die persoon te kommunikeer en reaksie te wys.Gelukkig het die teistering opgehou toe ek ophou reaksie gee. Ek het glad nie my foon geantwoord as ek gesien het dit is ‘n onbekende nommer nie en ek is van Facebook af vir ‘n tyd. Wanneer iemand jou teister, moenie met die persoon kommunikeer nie. Ek het baie geleer, soos om my foon op “silent” te sit deur die aand, asook nie sommer vreemde nommers te antwoord nie”.

Emosioneel is dit baie uitmergelend.

“Ek was vreesbevange daardie tyd. Veral oor die persoon dreigend was. Ek glo dat wanneer iemand jou probeer intimideer en teister die doel daarvan is om jou stil en of bang te maak. Deur uit te praat en standpunt in te neem wys jy aan die persoon dat dit nie die gewensde reaksie het nie. Nà die insident het ek en my dogtertjie na ‘n sekuriteitskompleks getrek. Ek is ook baie meer bewus van ons persoonlike sekuriteit asook om nie vreemde nommers te antwoord nie”.

Die teistering het Suzette se werk ook beïnvloed, want die foon het enige tyd van die dag of nag, tuis of by die werk gelui.  

“Die persoon was baie irrasioneel. Hy sou dreigende Facebookboodskappe stuur soos: “God het vir my gesê ek moet jou doodmaak” of “ek maak net seker jy lewe nog”. Aanvanklik was ek baie ontsteld en wou weet wie dit is en hoekom hy my lewe so versuur. My raad aan ander mense in dieselfde bootjie sal wees om so vinnig moontlik hulp te soek. Moenie dat die persoon enigsins jou lewe versuur nie. Daar is grense en sulke mense verbreek emosionele en soms fisiese grense ook as daar nie vinnig genoeg iets hieromtrent gedoen word nie.

Niemand het die reg om ‘n ander persoon so disrespekvol te hanteer nie. Deur op te staan vir jouself en jou gesin teen iemand wat jou lewe versuur deur te teister, doen jy die regte ding. Deur stil te bly, is dit asof jy toestemming aan die persoon gee om dit aan te hou doen”.

Bertus Preller is ‘n Kaapse egskeidingsprokureur. Hy het meer as 21 jaar ervaring in wetlike aspekte en praktiseer in Kaapstad. Hy spesialiseer in familie- en egskeidingsreg en is ook die skrywer van “Everyone’s Guide To Divorce and Separation” van Zebra Press Uitgewers.

Hy help hier om die Wet op Teistering, Wet 17 van 2011 aan Vrouekeurlesers te verduidelik:

Hoe werk die wet op die beskerming van teistering?

Die nuwe Wet op Teistering, wat 2011 in werking gestel is, poog om slagoffers van teistering, ook seksuele teistering te beskerm as deel van die reg van enige Suid-Afrikaner om hul lewe vry van enige vorm van geweld deur openbare asook private bronne te lei.

Die implikasie hiervan is dat mense nie meer ‘n anonieme SMS met een of ander seksuele ondertoon kan aanstuur nie. Selfs ‘n skoolboelie kan homself nou blootstel aan regstappe teen hom. 

Wanneer teister ‘n persoon iemand anders? Wanneer is iemand net irriterend en wanneer gaan dit oor in teistering?

Teistering kan die vorm aanneem van briewe, epos, smsse en Facebookboodskappe. Die wet bepaal dat enigiemand wat voel hul word op dié wyse geteister, met of sonder ‘n regsverteenwoordiger, kan aansoek doen om ‘n beskermingsbevel by sy of haar plaaslike hof.

Die hoofdoel van dié wetgewing is: “om slagoffers van teistering doeltreffend te beskerm teen gedrag wat neerkom op teistering”.

Die teisterwet kan ook ‘n toevoeging wees tot die Huishoudelike geweldwet, wat hom beywer vir ‘n afname in die wydverspreide mishandeling van vroue, kinders en mense met gestremdhede.

Watter tipes leed word aangerig? Byvoorbeeld geestelike, psigologiese of fisiese leed of ekonomiese skade?

Volgens dié wet word die volgende as teistering beskou:

Om iemand direk of indirek by gedrag te betrek wat die ander persoon skade aandoen of die ander persoon laat glo dat hy of sy sal skade gaan ly. Dit kan gedoen word deur hulle te agtervolg, dop te hou, aanhoudend te probeer kontak maak met die slagoffer of sy/haar familie. Dit sluit ook in om by of naby die persoon se huis of werk of plek waar hulle studeer leeg te lê of rond te hang.

Teistering kan ook plaasvind wanneer iemand briewe, pakkies, telegramme, fakse, epos of onwelkome geskenke vir die ander party stuur. Dit sluit ook in dat iemand boodskappe of pakkies los waar hulle weet die slagoffer gaan dit vind of daarvan te wete kom.

Seksuele teistering kan plaasvind wanneer iemand onwelkome seksuele aandag van ‘n persoon ontvang as die persoon wat dit uitdeel wéét dat die aandag onwelkom is. Dit sluit ook eksplisiete sowel as implisiete onwelvoeglike gedrag in. Ander maniere van seksuele teistering is seksuele voorstelle of boodskappe of aanmerkings met ‘n seksuele ondertoon wanneer die persoon wat dit sê sou kon voorsien dat die ontvang hierdeur geïntimideer, in die gesit gevat of verneder sal voel.

Seksuele teistering kan ook plaasvind as iemand ‘n beloning of belofte impliseer vir enige gedrag wat verband hou met ‘n seksueel georiënteerde versoek. Of wanneer daar ‘n direkte of indirekte bedreiging of weerhouding van voorregte gekoppel word aan die weiering om mee te doen aan ‘n seksueel georiënteerde versoek.

Teen watter tipes skade beskerm die Wet op Teistering mense?

Slagoffers wat geteister word kan psigiese, fisiese en psigologiese skade ly of ekonomies seerkry.

Enigeen wat glo hulle word deur ‘n ander persoon geteister mag volgens hierdie wetgewing aansoek doen om ‘n beskermingsbevel. ‘n Kind jonger as agtien of enige ander persoon mag ter wille van ‘n kind aansoek doen om ‘n beskermingsbevel sonder die bystand of toestemming van die kind se ouers.

Wanneer iemand nie in die posisie is om self aansoek om so ‘n bevel te doen nie, mag enige persoon wat die slagoffer se belange op die hart dra en die teistering wil stop aansoek doen om ‘n beskermingsbevel in belang van die persoon wat geteister word.

Anders as wat baie mense dink, hoef die persoon wat geteister word nie noodwendig in ‘n verhouding met die teisteraar te wees of gewees het om aansoek te doen vir ‘n beskermingsbevel nie.

“Ek kry teister-epos, wat moet ek doen?”

As iemand jou elektronies teister en jy weet nie wie dit is nie, kan die hof deur middel van die Wet op Teistering gelas dat die teisteraar se elektroniese besonderhede bekend gemaak word. Ondersoeke by die diensverskaffers of deur die polisie kan gelas word om vas te stel wie die teisteraar is.  

Wat sal gebeur wanneer ek ‘n teisteraar aankla?

Volgens die Wet op teistering word daar, indien daar genoegsame bewys van teistering en gepaardgaande skade  is, ‘n tydelike-hofbevel uitgereik, sonder dat die teisteraar betrek word, gebasseer op die klaer se kant van die storie. Die hof stel dan ‘n datum vas sodat die persoon teen wie die bevel uitgereik is in die hof kan verskyn om die aansoek teë te staan, voordat dit ‘n finale hofbevel word.

Die hof het die mag om ‘n tydelike hofbevel finaal te maak deur ‘n persoon te verbied om enige kontak, ook met die hulp van ‘n tweede of derde party, met die klaer te maak. In praktyk beteken dit dat ‘n beskermingsbevel aangepas word by die behoeftes van die klaer en sy of haar spesifieke situasie. Daar mag in sekere gevalle selfs ‘n lasbrief vir in hegtenisname deur die hof aan die teisteraar uitgereik word.

Wat kan die hof doen as die teisteraar die beskermingsbevel minag?

As ‘n persoon enige beperkings, voorwaardes of verantwoordelikheid wat verband hou met die beskermingsbevel verontagsaam of vals verklarings aflê, stel hy of sy hulle bloot aan vervolging. So ‘n persoon kan beboet word of tronkstraf, tot en met vyf jaar lank,  ontvang.

‘n Hof mag as deel van ‘n beskermingsbevel ‘n tydelike bevel uitreik om die klaer te beskerm teen enige verdere teistering, te keer dat die teisteraar met behulp van ander persone aanhou om die klaer te teister en om die teisteraar te keer om enige van die ander oortredings wat in die beskermingsbevel uiteengesit is te begaan tot tyd en wyl die hof sy finale beslissing gelewer het.

Die hof kan ook toevoegings en voorwaardes by die tydelike bevel voeg om te verseker dat die klaer veilig en beskermd is van enige teistering deur die aangeklaagde of enigeen wat die aangeklaagde help om die klaer te teister.

As deel hiervan mag die hof gelas dat ‘n lid van die Suid-Afrikaanse polisiediens enige wapen in besit of bereik van die teisteraar konfiskeer in terme van die vuurwapenwet.

Die fisiese tuis- en werkadres van die aangeklaagde persoon mag nie deel uitmaak van die beskermingsbevel nie, tensy dit genoodsaak word deur die situasie. Die hof mag ook gelas dat die klaer se adres of blyplek nie bekend gemaak word nie, ten einde die klaer se veiligheid te verseker.

Die hof mag nie weier om ‘n beskermingsbevel uit te reik nie, tensy die aangeklaagde klaar of in die proses is om self ‘n klag van agtervolging teen die klaer te lê in terme van die huishoudelike geweld wet.

Waar kan ek hulp kry?

Wanneer jy geteister word en ‘n klag wil lê kan jy aansoek doen by enige magistraathof waar jy bly of werk of by die hof waar die teisteraar bly of werk of by die fisiese plek waar die teistering plaasgevind het.

NOG BRONNE:

http://www.divorceattorney.co.za/divorce-attorney-divorce-blog-cape-town/divorce-attorney-cape-town-4/

http://www.justice.gov.za/forms/form_pha.html

http://www.divorcelaws.co.za

 

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: